in

Siektes waarvoor boere nou moet oppas!

veesiektes

Goeie reënval in die laatsomer is goeie nuus vir alle boere, maar veeboere moet nou regstaan vir die voorkoming van virussiektes en siektes wat deur insekte oorgedra word.

Dr Danie Odendaal, ’n direkteur van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging, sê hulle het veral berigte ontvang oor die wye voorkoms van knopvelsiekte en driedaestywesiekte. Hy het boere aangemoedig om onverwyld teen die siektes in te ent en om tog maar versigtig te wees vir “boererate” soos om beeste met ontsmettingsmiddels in te spuit en asperienpille wat vir mense bedoel is, aan diere te gee.

Hy sê voorgeskrewe behandelingsmiddels is volop. Dit help ook nie om diere wat reeds simptome toon in te ent nie – dan is dit te laat.

Volgens ’n inligtingstuk van die Direktoraat Veeartsenydienste, behoort voorkoming teen die volgende siektes nou hoog op elke veeboer se doenlysie te wees:

  • Slenkdalkoors
  • Bloutong
  • Knopvelsiekte
  • Driedaestywesiekte
  • Perdesiekte

Hoekom?

  • ’n Hoë voorkoms van hierdie insekoordraagbare siektes word verwag weens hoë reënval
  • Hierdie virussiektes word hoofsaaklik oorgedra deur muggies, muskiete en bytende vlieë wat gewoonlik naby vleie, panne en langs waterlope aangetref word

Knopvelsiekte

Word deur bytende vlieë oorgedra

Vatbare diere

  • Beeste

Die siekte veroorsaak groot ekonomiese verliese en die velle van aangetaste diere word permanent beskadig.

Simptome (sommige of almal)

  • Koors
  • Aptytverlies
  • Kwyl en helder of etterige neusuitskeiding
  • Oë is waterig en ontsteek
  • Ronde, harde, verhewe knoppe op die vel
  • Bene is geswel
  • Swere aan die neus, lippe en bek
  • Knoppe aan die uier en spene, dikwels in kombinasie met mastitis

Voorkom en beheer deur inenting!

  • Kalwers moet op 6 maande ouderdom ingeënt word (jonger indien die koeie nie ingeënt of natuurlik besmet is nie) en daarna een keer per jaar
  • Volwasse beeste kan op enige ouderdom ingeënt word

Slenkdalkoors

Word deur muskiete oorgedra

Vatbare diere

  • Dragtige ooie en pasgebore lammers
  • Bokke
  • Soms beeste
  • Sekere wildsoorte

Simptome

  • Hoë sterftesyfer onder pasgebore lammers, jong bokkies en selfs beeste
  • Aborsies
  • Hoë koors
  • Lusteloosheid
  • Aptytverlies
  • Moeilike asemhaling en die dood

Let wel: mense kan ook die siekte opdoen en toon dan die volgende simptome:

  • Grieperigheid
  • Tydelike of permanente skade aan oë
  • Enkefalitis
  • Bloedings

Voorkom en beheer deur inenting!

  • Ent lammers en jong bokkies in met ’n enkeldosis gemodifiseerde lewende entstof
  • Moet nie dragtige ooie of bokke met ’n lewende entstof inent nie, behalwe wanneer daar ’n uitbreking van die siekte is, en dit raadsaam is om al die diere in te ent
  • Beeste moet met ’n geïnaktiveerde entstof ingeënt word met opvolginentings 3 tot 6 maande later en uiteindelik net een inenting per jaar

Bloutong

Word deur muskiete oorgedra

Vatbare diere

  • Skape
  • Bokke
  • Beeste
  • Wilde herkouers

Die siekte kan tot ernstige ekonomiese verliese lei, veral vir skaapboere.

Simptome (sommige of almal)

  • Koors
  • Lusteloosheid
  • Membrane van die neus en tong is rooi
  • Neusuitskeiding en kwyl
  • Lamheid
  • Hele kop is geswel, veral rondom die kaak en laer af (nek)
  • Sere in die bek en slegte asem
  • Aptytverlies en vermaering
  • Vrekte

Voorkom en beheer deur inenting!

  • Drie inentings is nodig, toegedien met tussenposes van 3 weke en moet jaarliks herhaal word

Driedaestywesiekte

Word deur muggies oorgedra

Vatbare diere

  • ·Beeste

Simptome (sommige of almal)

  • Begin met koors
  • Diere hou hulself eenkant van die kudde
  • Aptytverlies
  • Stywe bene
  • Lyk of die dier sy gewig van een poot na die ander verplaas
  • Waterige neusuitskeiding
  • Oogontsteking
  • Geswelde gewrigte
  • Lae melkproduksie en lae gehalte melk (melkbeeste)
  • Aborsies

Simptome duur gewoonlik net ’n paar dae voordat die dier vinnig herstel. Melkproduksie tydens die laktasie is nooit weer dieselfde as voor die siekte nie.

   Voorkom en beheer deur inenting!

  • Ent veral melkbeeste en voerkraal-diere in, asook waardevolle teeldiere
  • Diere moet in die lente ingeënt word (kalwers van moeders wat immuun is, moet op 6-maande-ouderdom of ouer ingeënt word)

Perdesiekte

Word deur muggies oorgedra

Vatbare diere

  • Perde, muile en donkies

Simptome (sommige of almal)

  • Koors
  • Sweet
  • Moeilike asemhaling
  • Lomerigheid
  • Hoes
  • Neusuitskeiding
  • Kwyl (af en toe)
  • Rusteloosheid en geswelde oë en/of kop

Hoë sterftesyfer—net 3 tot 50% van perde oorleef die siekte.

Voorkom en beheer deur inenting!

  • Volgens wet moet perde, muile en donkies jaarliks teen die siekte ingeënt word. Die beste tyd is voor die warm reënseisoen. Die entstof bestaan uit 2 dosisse wat 3 weke uitmekaar toegedien word. Diere mag net lig oefen in die tydperk tot 3 weke na inenting
  • Die gebruik van die entstof is verbied in die perdesiektevry- en waarnemingsgebied van die Wes-Kaap. Skriftelike toestemming van die Direkteur Veeartsenydienste van die Wes-Kaap is nodig om entstof in die gebied te verkry

Onthou

  • Daar is geen doeltreffende behandeling teen virussiektes nie en om die simptome te behandel is baie duur
  • Siek diere veroorsaak groot ekonomiese verliese asook produksie- en reproduksieverliese

Voorkom hierdie siektes deur gereelde inenting!

Kontak enige van die volgende instansies vir meer inligting:

  • Onderstepoort Biologiese Produkte, 012-529-9111
  • Direktoraat Veeartsenydienste, 012-319-7476
Knopvelsiekte
Knopvelsiekte

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

simmentaler

Ons praat oor kruisteling – Simmentaler: Die syfers praat

Kanna

Nou nóg beter! Kanna se wolpers bespaar tyd, arbeid en geld