Ontmoet K2 Saad se wondermielies

Ontmoet K2 Saad se wondermielies

“Die vinnigste manier om te bepaal of ’n mielie sy sout werd is, is om dit vir ’n melkkoei te voer. Dit wat vanoggend ingaan, word vanaand omgesit in die gehalte en liters melk wat sy gee.” So sê Fanie Yssel, tegniese bestuurder: Agronomie van K2 Saad.

Toe die melkboere in die George-, Port Elizabeth-, Patensie-streek en tot so ver noord as Cradock in alle erns K2 Saad se 84-reeks, die KKS 8410BR en die KKS 8408R vir kuilvoer begin plant het, het die saadmaatskappy gesien hier kom ’n ding. Tans besit hulle 98% van die kuilvoermark in dié streek. Kort daarna het Cedara die twee kultivars se verteerbaarheidsontledings gedoen en met uitstekende resultate vorendag gekom. Dit is ’n hoë plant en die plant-tot-graan verhouding is uitstekend. “Wat baie lekker is, is dat jy nie verplig is om die plant vir kuilvoer te sny nie.  As daar iets voorval kan jy hom los om uit te droog vir stroop en jy sal steeds ’n uitstekende graanopbrengs kry, sê Fanie.

Die voerkrale begin ook nou die mielie aanplant, want soos vir ’n boer, gaan dit vir hulle oor voeromset, oftewel die hoeveelheid vleis wat hy per hektaar kan produseer. Die 84-reeks verseker vir hulle meer wins.

Een van die voorste verkopers in die K2-stal is die KKS 8326-reeks wat van Argentynse afkoms is. In Argentinië verkies hulle om kort mielies vir geenbewerking te kweek sodat die hoogloopspuite daaroor kan beweeg. KKS 8326 het homself ook in Suid-Afrika bewys as die doeltreffendste waterverbruiker. “KKS 8326 gebruik 80 mm water om ’n ton graan te produseer waar ander mielies tot 95 mm gebruik as jy oor sy lewensduur kyk,” sê Fanie.

Argentynse mielies is ook van die kulitvars met die sterkste blaarpakette op die mark en sal die laaste mielie wees wat blaarsiektes kry. Die lae waterverbruik maak dit geskik vir droogtegebiede en beloof ook om baie water vir besproeiingsboere te bespaar.

Jy kan K2 Saad kontak by +27 (0)44-203-9800 of n e-pos na info@seedmarketing.co.za stuur, of hulle webwerf by www.saadbemarking.co.za besoek om jou hande op hulle uitstekende mieliekultivars te lê.

Hooffoto: Van die manne van K2 Saad wat die stalletjie tydens Nampo beman het was Gerhard Engelbrecht, Christie Engelbrecht, Wiekie Vogel, Alie Engelbrecht, Willem Engelbrecht en Rudi Kuschke.