in ,

Ons praat oor kruisteling

Kruisteling stel dit ten doel om die gunstige eienskappe van twee of meer ouerlyne in ʼn enkele nageslag te kombineer. Daar bestaan nie ʼn ideale ras wat vir alle omstandighede geskik is nie, maar spesifieke kombinasies (kruisings) kan in ʼn wyer stel omstandighede presteer. In hierdie reeks bespreek ons die moontlikhede van kruisteling met ‘n verskeidenheid rasse.

Die Afrikaner

Die bydrae wat die Afrikanerbees in ’n kruisteelprogram kan maak, strek van ekstensiewe tot intensiewe beesboerdery aangesien die eerste generasie nageslag in ekstensiewe sowel as intensiewe omstandighede presteer.

Vroulike nageslag, afkomstig van die Afrikanerkruising, kan suksesvol aangewend word in bykans alle produksiestelsels. Die Afrikanerbees verleen verhoogde moedereienskappe, groter aanpasbaarheid, vroeër karkasrypheid en verbeterde vleisgehalte aan die kruising, hetsy vir aanwending as teeldiere (in die eerste twee eienskappe) of vir aanwending as slagvee (in die laaste twee eienskappe).

Die huidige verskuiwing in die vleisbeesmarkte pas die Afrikaner soos ʼn handskoen. Produksiemetodes waar osse of tollies regstreeks van die veld af bemark word, blyk oor die langtermyn die winsgewendste te wees. Die Afrikaner en sy kruisings is by uitstek hiervoor geskik.

Aanpasbaarheid

Aanpasbaarheid het ontwikkel oor ʼn tydperk van meer as ʼn duisend jaar, waartydens die beeste aan droogtes, siektes, parasiete, lang afstande tussen waterbronne, hoë temperature en slegs veldweiding blootgestel is. Hierdie was ʼn proses van natuurlike seleksie wat daartoe gelei het dat die volgende ekonomiese belangrike eienskappe in die ras vasgelê is:

  • Gemak van kalwing:

Die kenmerkende, effens hangende kruis en beperkte geboortemassa van die kalf verseker dat die koei maklik kalf, selfs van grootraambulle. Maklike kalwing verseker dat ʼn lewenskragtige kalf in die lewe gebring word. Die Afrikanerbees produseer kalwers met ʼn gemiddelde massa van 33 kg. In ʼn kruisproef met grootraambulle op Afrikanerkoeie is die gemiddelde geboortemassa met 3 kg verhoog (36 kg) sonder dat enige kalfprobleme in 300 geboortes ondervind is.

  • Raamgrootte:

Die sub-kontinent van Suider Afrika se strawwe toestande het die Afrikanerbees se raamgrootte beperk. Die onderhoudsbehoeftes van die Afrikanerbees, per kop, is dienooreenkomstig laer. Proefresultate het al telkemale bewys dat ʼn gegewe oppervlakte wat 100 Afrikanerkoeie kan dra, slegs 78 grootraam-koeie of 89 mediumraam-koeie kan dra.

In kruisteling met grootraambulle produseer Afrikanerkoeie kalwers met ʼn gemiddelde speenmassa van 220 kg. Proefresultate dui daarop dat hierdie kalwers ook ekstensief, soos die suiwer Afrikaneros, afgerond kan word, met hoogstens ʼn produksielek in die na-somer as aanvulling.

  • Lae-inset beeste:

Afrikaners en hulle kruisings is proefondervindelik bewys as lae-insetbeeste. Dit beteken dat insetkoste soos dip, doseer, lekaanvulling en selfs infrastruktuur laer is as gevolg van hulle aanpassing by die omgewing en voerbron.

Karkasrypheid

Die Afrikanerbeesras is bekend vir vroeë karkasrypheid. Dit hou verskeie voordele in, soos afronding in ekstensiewe toestande in die A-klas (voor tandwisseling), sonder byvoeding, korter voertydperke in intensiewe stelsels en hoogste klassifikasie (A1 tot A3) teen lae karkasgewigte (± 180 tot 200 kg); ideaal vir die uitvoermark. Hierdie voordele word aan die kruisings van ʼn Afrikanerkoei of ʼn Afrikanerbul oorgedra.

Vleisgehalte

Uit ’n studie van de Bruyn et al, (1986) het dit duidelik geblyk dat die Afrikanerbeeste sowel as die Britse rasse die sagste vleis produseer. Hierdie besondere voordeel van die Afrikaner kan benut word om die reeds geïdentifiseerde ideale kruis ten opsigte van die Afrikaner, naamlik Afrikanermoeder X bul van ’n Europese ras se vleissagtheid te bevorder, aangesien die Europese ras taaier vleis produseer.

Die Afrikanerbees is inderdaad van Afrika vir Afrika, maar beslis nie beperk tot Afrika nie!

Rasse wat ontstaan het uit die Afrikaner:

Afrigus

Jare reeds is die Afrikanerkoei met Britse vleisbulle gekruis om gehalte vleis vanaf veldweiding te produseer. ’n Aantal telers in Suid-Afrika en Namibië het in 1999 besluit om die Afrikaner- Anguskruising as ’n ras te ontwikkel. Die hoofteeldoelwitte was om die poenskopfaktor, gemak van kalwing en die hoë vleisgehalte van die Angus met die gehardheid en aanpasbaarheid van die Afrikaner te kombineer. Albei rasse is natuurlik rooi van kleur. Die raskombinasie is 50% Angus van ’n geregistreerde, prestasie-geselekteerde bul en 50% van ’n Afrikanerkoei.

Afrisim

Baie jare lank was die kruising tussen die Afrikaner en Simmentaler baie gewild onder kommersiële boere. Vanweë die ekonomiese voordeel van die kruising is ’n ras ontwikkel wat uit 50% Afrikaner en 50% Simmentaler saamgestel is.

Die hoofdoelwit is om ’n maklik-boerbees te teel wat goed onder druk kan presteer en steeds ekonomiese voordele kan inhou. Met die ontwikkeling van die ras word gepoog om die goeie aanpasbaarheid en maklike kalwing van die Afrikaner en die goeie melkeienskappe en groeivermoë van die Simmentaler in een ras te kombineer.

Die Afrisim is hoofsaaklik ligrooi van kleur met ’n wit bles en ’n gladde haarkleed. Die Afrisim presteer goed in ’n voerkraal sowel as met afronding vanaf weiding.

afrisim

Bonsmara

Die Bonsmara-beesras is onlosmaaklik verbind aan die Afrikanerbees en Bonsmaratelers beskou die Afrikanerbees vandag nog as hulle “voetstuk”. Verskeie eienskappe van die Afrikaner, soos sy aanpasbaarheid, vel en haarkleed, asook sy vleisgehalte het bygedra tot die sukses van die Bonsmara, wat vandag van die talrykste beesrasse in Suid-Afrika is.

Na baie jare se navorsing om die ras te ontwikkel, is bevind dat die optimale kombinasie bestaan uit 5/8 Afrikaner en 3/8 Vleiskorthoring en Hereford. Die eerste opreggeteelde Bonsmarakalwers is in 1943 gebore.

Vandag is die Bonsmara landwyd aangepas in natuurlike weidingstoestande en bekend as ’n ras met koeie wat goeie moeders is wat goeie kalwers lewer vir voerkraal- sowel as veldafronding. Die ras het reeds ’n vastrapplek in talle ander Afrika-lande, asook Suid- en Noord-Amerika en Australië, verkry.

bonsmara aug

Hugenoot

Die ras het ontstaan uit kruisings van die Franse Charolais en die inheemse Afrikaner-beesras. Die rassamestelling van 40% Afrikaner en 60% Charolais is nagestreef om die aanpasbaarheid en maklike kalwing van die Afrikaner en die goeie groei-eienskappe van die Charolais te kombineer.

Die Hugenoot is ’n medium- tot grootraamvleisbees met ’n gladde, kort haarkleed en goeie velpigment. Die haarkleed is gewoonlik heuningkleurig, maar soms “Afrikaner-rooi”. Die rustige temperament van die Hugenoot is een van sy uitstaande eienskappe en die kalwers van die ras is gesog by voerkrale vanweë hulle gunstige voeromset en hoë groeivermoë. Diere word ook redelik gemaklik op weiding afgerond.

hugenoot

Sanganer

Veekundiges het uitgewys dat daar te veel vader-teellyne en te min moeder-teellyne in Suid-Afrika is. Die ontwikkeling van die Sanganer-ras het ten doel gehad om ’n bykomende klein- tot mediumraamtipe moederlyn te ontwikkel. Hierdie ras moes goed aangepas wees vir Afrika-lande. Die Sanganer is in 1989 as ’n kruising tussen die Afrikaner en die Nguni geïnisieer, onder toesig van die Afrika-nerbeestelersgenootskap (ABTG). Die eienskappe waarvoor geselekteer word, is aanpasbaarheid in moeilike Suid-Afrikaanse toestande, soos hoë temperatuur en hoë humiditeit, veral aan die Ooskus, en weerstand teen eksterne parasiete, met minimum bestuursinsette.

sanganer

Met erkenning aan die Afrikanerbeestelersgenootskap, die Bonsmarabeestelersgenootskap, die Hugenoot SA-beestelersgenootskap en Scholtz, Michiel M, LNR, Beef Breeding in South Africa, tweede uitgawe.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jag is nie meer jag sonder slimtegnolgie

Help om veediewe se vlerke te knip