in

Ons praat oor kruisteling: Die Beefmaster

deur Lorenzo Lasater, Isa Cattle, San Angelo, Texas

Wetenskap en ondervinding het ons geleer dat ons produksie doeltreffend kan verhoog deur kruisteling. Daar is verskeie redes hoekom Beefmaster die ideale ras vir vleisbeeskruisteelprogramme is. Die belangrikste van hierdie redes en uniek aan Beefmaster, is die filosofie wat met die ontstaan van die ras geformuleer is, naamlik die ses vereiste ekonomies belangrike eienskappe (Vrugbaarheid, Temperament, Gewig, Bouvorm, Gehardheid en Melkproduksie).

My oupa het hierdie filosofie in die 1930’s ontwikkel terwyl hy die Beefmaster ontwikkel het in ’n poging om die doeltreffendheid van produksie in ’n uitdagende omgewing te maksimaliseer. Ongelooflik, die Lasater-filosofie is 80 jaar later nog net so toepaslik as wat dit toe was. Hierdie konsep is veral van toepassing in ’n kruisteelprogram wat uitdruklik gebruik word om meer vleis meer doeltreffend te produseer, sonder inagneming van baie van die nie-ekonomies belangrike seleksiekriteria wat dikwels in ’n stoetomgewing gebruik word, soos kleur, grootte en stamboom.

Nog ’n eienskap in Beefmasters wat hulle ideaal maak vir kruisteling, is dat hulle maklik aanpas by bykans enige omgewing en steeds die produksiedoeltreffendheid lewer waarvoor hulle bekend is. Of jy in ’n baie koue omgewing, soos die kudde van oorsprong op my oupa se plaas in die Oos-Colorado, of in die woestyn, of in tropiese toestande boer, hulle sál presteer. Dit beteken dat jy hulle vir kruisteling in jou bestaande kudde kan gebruik en jou nie hoef te bekommer oor die aanpasbaarheid van die nageslag nie.

Heterose of basterkrag is geweldig belangrik in die oorweging van Beefmasters in ’n kruisteeltprogram. Dit word eenvoudig omskryf as ’n toename in die prestasie van kruisrasbeeste bo die prestasie van suiwergeteelde beeste. As gevolg van Beefmasters se ontstaan as ’n drierrassamestelling (gewoonlik uitgedruk as ongeveer 50% Brahman, 25% Hereford en 25% Korthoring), is Beefmasters se behoue basterkrag veel hoër as dié van suiwergeteelde beeste of ’n tweerigtingkruising.

As ’n drierassamestelling, sou Beefmasters ’n behoue basterkrag van 62,5% hê, maar ek glo dat dit eintlik hoër is as dit, omdat die “Brahman” in Beefmasters eintlik verwys na die Bos Indicus-bloed, en wat ingebring is in die Beefmaster-ras in die vorm van die Nelore-beeste uit Brasilië en Ghir en Guzerat uit Indië. Dit sou eintlik die behoue basterkrag van Beefmasters ietwat nader aan 75% bring.

Wat beteken dit eintlik in geldelike terme? Kom ons sê jou kruisteelstelsel het gelei tot ongeveer 67% van die maksimum basterkrag. ’n Toename van 16% in die kilo’s per kalf gespeen vir elke koei blootgestel aan teling kan verwag word bo die rasgemiddeld van albei ouers. Indien die verwagte gemiddelde gewig van twee suiwer rasse 227 kg per kalf gespeen is vir elke koei blootgestel aan teling, dan kan deur daardie rasse saam in ’n tweeras-rotasiekruisteeltstelsel te gebruik ’n kalf van 263 kg per koei gespeen word. Dit is ’n verbetering van 36 kilogram deur net gebruik te maak van basterkrag. In die VSA noem ons dit ’n “free lunch”, want daar is geen bykomende koste vir die verkryging van hierdie voordeel nie.

Beefmaster se aanpasbaarheid maak die ras ‘n goeie keuse vir kruisteling.

Afgesien van bloot gewig, kan nog ’n geldelike manifestasie van die krag van die Beefmasters in kruisteling in die lengte van die produksiesiklus gevind word, veral in die warm en tropiese omgewings. ’n Goeie voorbeeld waarmee ek persoonlik vertroud is, is in Brasilië, waar ons saam met ’n Beefmasterteler gewerk het om die ras daar te vestig.

Hulle tradisionele produk is driejarige, veldafgeronde osse, wat regstreeks van die plaas af bemark word. Hulle verse kalf dienooreenkomstig op drie jaar. Deur Beefmasters op hulle inheemse Nelore-beeste te gebruik, was hulle in staat om nie net gewig te verhoog nie, maar ook om die tyd waarin die teikengewig vir slagting of kalwing bereik word, met ses maande te verminder! Met die tweede kruis is dit verder verminder met ’n volle jaar. Wat sou die uitskakeling van een jaar se produksie-uitgawes werd wees in die berekening van jou netto wins?

Die wonderlikste ding oor die gebruik van Beefmasters in ’n kruisteelprogram is dat jy nie ’n klomp van die ingewikkelde rotasieteling hoef te doen nie. Sit net ’n Beefmaster-bul by die koei van jou keuse en die gevolg is dat die kalwers ’n geweldige hupstoot van basterkrag kry.

Maar die aanskoulikste towerkrag vind plaas wanneer jy daardie Beefmaster-kruiskoei terugbring na ’n Beefmaster-bul. In plaas daarvan dat die basterkrag verlore gaan, bly dit behoue en jy kan elke keer weer ’n Beefmaster-bul gebruik sonder dat hulle ooit doeltreffendheid verloor. Die stelsel is pragtig in sy eenvoud en ontsagwekkend in sy resultate.

Erfdwang is nog ’n belangrike oorweging in kruisteling met Beefmasters. Dit word omskryf as die vermoë van een van die ouers om meer eienskappe na sy nageslag oor te dra as die ander ouer. Alhoewel dit nie wetenskaplik is nie, het ek baie keer in baie verskillende lande gesien dat wanneer jy ’n Beefmaster-bul met enige ander tipe koei teel, die resultaat soos ’n Beefmaster lyk.

Ek deel graag ’n interessante storie. Ons het oor die afgelope paar jaar ’n uitgebreide program in Thailand onderneem om Beefmasters daar te vestig. Toe die eerste F1-kalwers uit Beefmaster-semen en inheemse kommersiële koeie gebore is, het hulle net soos Beefmasters gelyk. Ek het toe ’n foto tussen die Beefmaster-telers in die VSA versprei en iemand het gesê dat dit seker ’n suiwergeteelde embriokalf is. Ek het hom egter reggehelp deur te sê dat dit slegs 50% Beefmaster was – die gevolg van die eenmalige gebruik van L Bar-genetika!

Deels te danke aan behoue basterkrag en deels vanweë erfdwang, het Beefmasters net daardie klein bietjie “towerkrag” wat hulle ’n eerstekruis-treffer maak. Dit is veral waar ten opsigte van gewone kommersiële beeste (plainer cattle), waar jy ’n groot verbetering en ’n nageslag wat soos ’n Beefmaster lyk in die eerste kruising kry.

Beefmasters bied die perfekte kruising met Engelse of Europese rasse. Dit vul hulle sterk eienskappe soos vrugbaarheid en karkasgehalte aan, maar verbeter ook hulle produksiedoeltreffendheid. Dieselfde kan gesê word van Bos Indicus beeste, waar Beefmaster hulle bouvorm en vleisgehalte kan verbeter, terwyl dit hulle sterkpunte soos hitteverdraag-saamheid en lae koste van produksie kan aanvul.

Ek sou dink dat daar ’n uiters gunstige geleentheid in Suid-Afrika bestaan vir die kruising van Beefmasters met kommersiële Bonsmara-beeste wat, alhoewel met soortgelyke doelwitte in gedagte, saamgestel is uit verskillende genepoele en sedert hulle ontstaan verskillend geselekteer is. Die gevolg sal ’n geweldige ontploffing van basterkrag wees.

Opsommend: Kruisteling is ’n ideale manier om produksiedoeltreffendheid goedkoop in ’n vleisbeesboerdery te verbeter. Beefmaster is die beste keuse om hierdie voordeel ten volle te benut omdat hulle so baie goeie eienskappe saambring.

Lorenzo Lasater is die voorsitter van die “Isa Cattle Co, Inc” in San Angelo, Texas. Hy is die kleinseun van Tom Lasater wat die Beefmaster ontwikkel het en voormalige president van die “Beefmaster Breeders United” in die VSA.

Beefmaster x Hereford

Beefmaster x Angus

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Verspreider van die maand

Laat trap jou beeste in hulle spoor 2: