in

Nuwe minimumlone bekend vir 2018

money

This post is also available in: Afrikaans

Volgens die Nasionale Minimumloon wat in Mei 2018 in werking tree, moet plaaswerkers nou R3 576 per maand (R18 per uur) verdien.

Werkers in sekere sektore, soos landbou, huiswerkers, en 12 ander sektore, het reeds minimumlone asook minimum diensvoorwaardes wat in sektorale vasstellings vervat is, maar ‘n universele minimum-standaard vir alle werknemers in Suid-Afrika is nou gevestig, sê Jahni de Villiers van Agri SA.

In Februarie 2017 is ‘n ooreenkoms by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC) tussen die verteenwoordigers van arbeid, die gemeenskap en die regering bereik, om ‘n bedrag van R20 per uur as minimumloon vas te maak. Gegewe die uitdagings in die huiswerker- en plaaswerker-sektore, is daar besluit om die minimumloon in te faseer, wat beteken dat plaaswerkers ‘n minimum van R18 per uur moet verdien, en huiswerkers ‘n minimum van R15 per uur.

Volgens die huidige sektorale vasstelling word huiswerkers en sekuriteitswagte wat op plase in diens geneem is, beskou as plaaswerkers. Dus sal beide vanaf 1 Mei 2018 af R18 per uur betaal moet word.

Agri SA was betrokke by die NEDLAC proses waar die voorgestelde Nasionale Minimumloonwet onderhandel en verfyn is, en die wet moet nou deur die normale parlementêre proses gaan voordat dit in werking gestel kan word.

Die huidige minimumloon volgens die sektorale vasstelling is R3 001 per maand, oftewel R15,39 per uur. Hierdie bedrag sou (indien ons ‘n geskatte inflasiewaarde van 5% aanvaar) tot R3 151 (R16,15 per uur) gestyg het. Met die Nasionale Minimumloon wat in Mei inskop, sal plaaswerkers nou R3 576 per maand (R18 per uur) verdien.

Hoewel die Nasionale Minimumloonwet bepaal dat werkgewers nie werknemers mag verminder as gevolg van die minimumloon nie, is die realiteit dat daar wel werksverliese mag wees omdat die bekostigbaarheid van die werkmag so ‘n groot invloed op die finansies van enige besigheid het. En ‘n plaas is ‘n onderneming! Agri SA is bekommerd oor die gevolge, want niemand wil werksverliese veroorsaak nie. Dis belangrik om ook te onthou dat die landbousektor al sedert 2008 onder ‘n sektorale vasstelling resorteer, minimumlone is nie nuus nie.

Wat wel ongelooflik moeilik is, is om die balans te handhaaf tussen die regverdige betaling van werkers, en die voortbestaan van ‘n plaas. Boere is verantwoordelik vir voedselsekerheid in Suid-Afrika. Indien minimumlone onbeheersd styg, is daar ‘n rimpeleffek wat nie geïgnoreer kan word nie.

Die wet maak voorsiening vir kwytskeldings vir boere wat nie die minimumloon kan bekostig nie, wat binne 30 dae hanteer moet word. Dit is ‘n administratiewe proses waar bewys van finansiële druk gelewer sal moet word. In hierdie stadium sal die proses elektronies gedoen kan word, en indien ‘n werkgewer nie binne 30 dae terugvoer ontvang oor die kwytskeldingsaansoek nie, kan daar aangeneem word dat dit toegestaan is.

Bron: RPO Nuusbrief Januarie

What do you think?

-3 points
Upvote Downvote

Total votes: 3

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 3

Downvotes percentage: 100.000000%

varkie

Dom Boer se lag vir die dag:

Foutiewe beriggewing skaad boere se beeld