Boere van Indiana en ander state in die Amerikaanse mielie-gordel is besig met ‘n boikotaksie teen hoë kunsmispryse. Die boere, wat gewoonlik hulle kunsmis in die begin van die jaar koop vir die lente-aanplantings, hou hulle beursies toe in die hoop dat pryse wat ‘n paar maande gelede die hoogste ingeskiet het, sal daal.
Reuters berig dat die pryse met ‘n derde gestyg het sedert November. Een van die boere, Steve Georgi, sê hy weier om te koop terwyl die pryse so belaglik hoog is. Blykbaar het die kunsmispryse gestyg in afwagting op die grootste mielie-aanplantings in jare, maar kunsmisverkopers het laas in 2008 met die finansiële ineenstorting in Amerika so min kunsmis verkoop.
Hulle hou egter uit, want die boere het uiteindelik kunsmis nodig om mielies te kan plant. Verskeie boere dreig egter om eerder ander gewasse soos soja te plant, wat minder kunsmis nodig het.
Waarnemers sê die boikot is ‘n teken van ‘n groter neiging onder boere om meer beheer in hulle eie hande te neem en ‘n groter invloed op markpryse uit te oefen. Die boere, wat geld in die hand het na ‘n goeie oesjaar, sien kans om die senuwee-oorlog met die kunsmismaatskappye te speel. Boerdery-inkomste het verlede jaar met 27,5% gestyg en baie boere stoor graan op hulle plase in afwagting op goeie pryse.
Kunsmismaatskappye sê boere moet verstaan dat hulle nie voorraad kan aankoop en aanhou as hulle nie seker is van bestellings nie. Indien boere dus skielik besluit om te plant gaan hulle sukkel om kunsmis te kry.
Steve Georgi van Indiana sê hy sien kans vir die waagstuk, want stikstof-pryse in sy omgewing het reeds met 7% geval van die begin van die boikot af. “Daar is genoeg ruimte vir kunsmispryse om nog bietjie te daal,” sê hy.
Onderwerpe: Nuus





