Loading
Gryp nou in teen bloutong en perdesiekte
Deur Annemarie Joubert | Datum: 2014-02-11 | 0 Kommentaar
Puik 
 0
 | Swak 
 0

deur Leon Kruger, LNR

Hierdie tyd van die jaar raak die Culicoides-muggies baie aktief en die siektes wat hulle oordra word ‘n probleem vir skaapboere.

Culicoides-muggies, of brandassies of warmassies soos dit in die volksmond bekend staan, is bloedsuiende parasiete wat tydens skemerte en snags aktief is.

Net die wyfiemuggies is bloedsuiend. Hulle teel aan in klam substraat soos modderoewers van damme of vleie en ook in beesmis.

Hulle dra twee baie belangrike virusse oor aan die gasheer. Die een is perdesiekte en die ander bloutong aan skape.

Die beheer van die muggies is baie moeilik en eintlik onmoontlik, want hoe gaan mens klam substraat of beesmis uitskakel? Daarom is dit belangrik om eerder te probeer om te verhoed dat die muggies die diere aanval. Dit op sigself is net so moeilik, maar dit sal help om diere skemer en snags onderdak te kraal aangesien die muggies nie graag onderdak ingaan nie.

Beeste is ‘n voorkeur gasheer vir die muggie en waar beeste saam met skape aangehou word, behoort die voorkoms van bloutong by skape minder te wees.

Die beste manier om bloutong te voorkom, is om diere in te ent. Die inenting behels drie inentings drie weke uitmekaar voor dit spitsseisoen vir die muggies raak, met ander woorde: Bloutong A in Oktober, B in November en C in Desember.

Die onbekombaarheid van entstof en die feit dat entstof nie 100% doeltreffend is nie, noop die boer om bedag te wees op simptome wat gepaardgaan met bloutong. Ervaring het nou al geleer dat die vinnige en doeltreffende behandeling van bloutong wel die dier se lewe kan red.

Diere wat nie behandel word nie, sal vrek daaraan.

Dit is baie belangrik om te onthou dat bloutong ‘n virusbesmetting is en behandeling is slegs ondersteunend. Die behandeling maak dus nie die virus dood nie maar ondersteun die skaap se liggaam in so mate dat dit kan oorleef.

Hoe lyk bloutong in ‘n skaap?

Bloutong vertoon verskeie simptome wat afsonderlik of gesamentlik gesien kan word. Daar is verskeie serotipes van die bloutongvirus en daarom kan verskeie siektetekens gesien word, gesamentlik of alleen. Dit is baie belangrik, want soms word net hoefkroonontsteking gesien, of slegs die seertjies in die mond, maar die besmetting gaan altyd gepaard met koors. Skape met bloutong ontwikkel ‘n koors van 40 tot 41ºC.

Ongelukkig is ‘n koorsreaksie nie altyd opsigtelik nie en dit kan eers bevestig word wanneer die dier se temperatuur gemeet word. Lusteloosheid wat gewoonlik met so koors gepaard gaan, maak dit vir die oplettende boer moontlik om te sien daar is fout met die skaap.

Die koorsreaksie kan vir ongeveer vyf dae aanhou. Ongeveer twee dae na die aanvang van die koorsreaksie sal die skaap ‘n etteragtige snotneus ontwikkel, met die neusuitloopsel wat die neusgate toeplak. Die bek begin ook kwyl met skuimagtige speeksel.

By nadere ondersoek is die lippe geswel, vertoon donkerrooi en bewerig. Die tong is dikwels ook geswel en kan donkerrooi tot blou vertoon vanwaar die naam van die siekte ontleen is.

Die dier sal ook die mond oophou, om twee redes: die tong en lippe is seer en sensitief, en die dier sukkel om asem te haal deur die verstopte neusgate. Seertjies en erosie kan ook op die bytplaat van die bokaak gesien word. Die skaap sal hom verset teen die ondersoek van die bek weens die sensitiwiteit daarvan.

Buiten die tekens wat aan die gesig opgemerk kan word, ontwikkel skape ook hoefkroonontsteking waar die hoefkroon ‘n duidelike donkerrooi kleur het. Skape met hoefkroonontsteking sal neig om nie op die pote te trap nie en sal derhalwe gaan lê of trippel as hulle geforseer word om te staan. Soms staan hulle op die voorknieë om verligting van die pyn te kry. As drukking op die hoefkroon geplaas word, sal die skaap sommer vinnig terugtrek weens die pyn.

Die koorsreaksie het ook wolbreek tot gevolg en die konstante speeksel en slymafskeiding in die bek en neus het dikwels tot gevolg dat die asemhaling aangetas word en longontsteking kan voorkom. Aborsies kan by dragtige ooie voorkom.

Behandeling:

Behandeling is uitsluitlik daarop gemik om die simptome te behandel en verlig. Die simptome soos reeds genoem is, is koors, pyn en ontsteking en daarom is dit aan te beveel om ‘n middel soos Flunixin (Finadyne) te spuit aangesien dit koorswerend, anti-inflammatories en pynstillend is.

Indien dit nie moontlik is om so middel in die hande te kry nie, kan gewone aspirien in water opgelos word en deur die bek toegedien word. Weens die longontsteking wat telkens ontwikkel, is dit raadsaam om die siek skaap met antibiotika ook te behandel.

Hou die siek dier in ‘n hospitaalhokkie of –kampie, aangesien blootstelling aan son die dier nog slegter sal laat voel. Die koorsreaksie is ook telkens verantwoordelik vir rumenstase waar die natuurlike organismes in die rumen afsterf en die dier dan nie sal herkou nie. Dit, tesame met die seer bek, maak dat die dier dan nie wil eet nie en sagte, smaaklike kos soos vars gras moet dan aan die dier gegee word om te eet.

Goeie nasorg (“tender loving care”) is belangrik, veral in gevorderde gevalle, en indien rumenstase ontwikkel moet die skaap grootpensstimulante (Rumix) ingegee word.

Dit kan enigiets van ‘n week tot ‘n maand neem vir die skaap om ten volle te herstel, afhangend van hoe erg die skaap aangetas was. Dit is waarom vinnige identifikasie van en behandeling van die siekte so belangrik is.

Verwarrende siektes

‘n Mens moet jou nooit blind staar teen enkele simptome nie, want daar is ander siektes wat soortgelyke simptome toon as bloutong: Suurpens, waar hoefkroonontsteking ook voorkom, is ‘n voorbeeld, maar die dier sal dan diarree hê. Neuswurm veroorsaak ook snotneuse wat die neusgate verstop, maar in die geval sal die dier nie koors hê nie. Wolbreek kan voorkom met myt- en luisbesmettings, maar koors sal nie voorkom nie. Siektes soos hartwater veroorsaak ook koors en lusteloosheid, maar diere sal nie hoefkroonontsteking of mondsere hê nie.

 

Onderwerpe: Dieresorg
Lesers kommentaar
ProAgri is die trotse borg van:
ProAgri Video's - Ons wys hoe dit werk.All fresh logo
Lees ProAgri-tydskrif
KalenderOktober 2014
SoMaDiWoDoVrSa
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
12
13
14
15
16
17
18
19
20
21
22
23
24
25
26
27
28
29
30
31
Gee jou mening
Wie is reg? Moet rooivleisinvoere uit Namibië beperk word?

RPO
Voerkraalvereniging
Nie een nie
Ek weet nie