in ,

John Deere wys die Tegnikus van die Jaar aan

John Deere
Charles van Loggerenberg van AFGRI Delmas het baie ure en dae in so ’n mobiele werkstasie deurgebring voor hy die titel van John Deere se Tegnikus van die Jaar kon verwerf.

This post is also available in: Afrikaans

“Dit vat ’n lang ruk om ’n goeie verhouding met ’n kliënt te bou, maar net ’n oomblik om dit af te breek,” vertel Charles van Loggerenberg van AFGRI Delmas. Charles is deur John Deere aangewys as die Tegnikus van die Jaar vir 2017 en hy weet hoe om kliënte te behandel en te behou.

Charles loop al van 1996 af ’n pad met AFGRI (die destydse OTK) en John Deere toe hy as vakleerling op Delmas aangetree het. ’n Paar jaar later is hy as werkswinkelbestuurder in Bronkhorstspruit aangestel.

Daarna het hy ’n jaar lank sy eie ding gedoen, maar in 2005 is hy terug AFGRI toe.

2017 was die laaste jaar wat Charles aan die Tegnikus van die Jaar-wedstryd kon deelneem, want hy is pas aangestel as tegniese adviseur vir die hele oostelike streek. Van Bronkhorstspruit af, verby Standerton, Bethal en Middelburg en tot so ver as Piet Retief is hy die man wat ingeroep word as die probleem te groot is om plaaslik opgelos te word. “Ek is die probleemoplossers se probleemoplosser,” spot hy.

Hy het ook ’n opleidingsrol om te vervul en dit is so pas bewys dat enige tegnikus maar kan luister as Charles praat. Om die titel van Tegnikus van die Jaar te verwerf, is geen grap nie. Vandat die toekenning drie jaar gelede ingestel is, was Charles elke keer in die Top Tien. Verlede jaar was hy tweede.

John Deere
Die Top Tien John Deere-tegnici met die spoggerige baadjies wat hulle by die toekenningsgeleentheid ontvang het. Die drie wenners, Artie Bester (2de), Charles van Loggerenberg (1ste) en Gert Grobler (3de) kniel voor.

Só werk die kompetisie

Daar is meer as 450 gekwalifiseerde John Deere-handelaarstegnici in Sub-Sahara Afrika en nog 200 vakleerlinge wat daaraan werk om hulleself te bekwaam van Vlak 1 tot Vlak 4. Baie moeite word gedoen om die tegnici op te lei en toe te rus met die kennis om alle nuwe (en ou!) tegnologie baas te raak.

By die John Deere-sentrum in Boksburg is daar netjiese lesinglokale en ’n stel werkswinkels waar tegnici teoretiese en praktiese opleiding ondergaan. Dit is ook hier waar die senutergende finale rondte van die kompetisie plaasvind.

Al die gekwalifiseerde tegnici kan vir die eerste rondte inskryf. Dit bestaan uit ’n elektroniese oopboektoets deur die John Deere Universiteitsprogram. Daar is drie modules in die toets en die 50 toppresteerders dring deur na die tweede rondte.

Die tweede rondte bestaan uit ’n eksamen van 3,5 uur wat onder toesig by verskillende John Deere-sentra afgelê moet word. Hier word die Top Tien kandidate uitgesif.

Die manne word oor die hele spektrum van John Deere-toerusting en tegnologie getoets en nie net met betrekking tot die masjiene wat in hulle streek loop nie.

Charles sê in die Delmas-omgewing het hulle byvoorbeeld nie veel ondervinding van suikerrietmasjiene of katoenplukkers nie, maar AFGRI het ’n groot rol gespeel om hulle tegnici by te staan deur hulle met mekaar te laat gesels in die verskillende streke.

“Ek moet net die naam van oom Japie Bester van die Vrystaat noem,” sê Charles. “Hy het baie gehelp dat ek meer begrip ontwikkel vir die tegnologie waarmee ek nie elke dag te doen het nie.”

In die finale rondte moet elkeen ’n teoretiese vraestel in elke afdeling aflê en ook ’n praktiese toets ondergaan. ’n Span slim instrukteurs skep unieke en uitdagende probleme op ’n reeks masjiene, soos groot en klein trekkers, ’n stroper en ’n spuit. Die ideaal is natuurlik om die probleem op te los in die 50 minute tot sy beskikking, maar die tegnikus moet deur die regte diagnostiese proses gaan en hy kry darem ook punte vir elke stap.

Charles sê: “Dit voel vir my of die toets elke jaar al hoe moeiliker raak, maar dit is regtig ’n goeie toets vir die tegnici se kennis en vernuf om probleme op te los. Dit is ook baie objektief. Almal het presies dieselfde kans om te slaag, of om te sukkel!”

Drie spesialis-assessore word ook ingebring om die finale rondte te beoordeel. Die wenners se name is tydens ’n spoggeleentheid by Emperors Palace bekend gemaak. Al tien toppresteerders ontvang sertifikate en netjiese John Deere-baadjies.

Jason Brantley, besturende direkteur van John Deere,Sub-Sahara Afrika, (regs) het
die wenners se pryse oorhandig.

Top Drie

Vanjaar se Top Drie werk almal by AFGRI: In die derde plek is Gert Grobler van AFGRI Grootvlei. Hy ontvang ’n naweekvakansie vir twee ter waarde van R10 000, wat deur John Deere Produkondersteuning geborg word.

In die tweede plek is Artie Bester van AFGRI Betlehem. Hy gaan nooit weer ’n verskoning hê om nie gras te sny nie, want hy is nou die trotse eienaar van ’n John Deere D110-rygrassnyer wat deur John Deere Financial geborg is.

En die John Deere Tegnikus vir 2017, Charles, en sy vrou, Caren, gaan een of ander tyd hierdie jaar ’n bietjie oorsee kuier by ’n John Deere-fabriek. Charles moet ook deur die jaar as ambassadeur vir John Deere optree.

Caren is baie trots op haar slim, hardwerkende man. Sy is ’n verpleegster en hulle het twee kinders, Sarahné (12) en Ruben (9).

By die toekenningsgeleentheid het Jason Brantley, besturende direkteur van John Deere, Sub-Sahara Afrika, gesels oor die belangrike rol wat mense en menseverhoudings in die maatskappy speel.

Hy sê boere hou aan om John Deere-produkte te koop en te gebruik. Een rede daarvoor is die handelsnaam wat bekend is vir gehalte, maar die grootste rede waarom mense by John Deere bly, is as gevolg van die mense wat daar werk.

“John Deere is die John Deere-mense,” sê hy. Hy het vir die tegnnici gesê hulle moet ’n bietjie stilstaan en net dink wat dit is wat hulle elke oggend motiveer om op te staan en aan te gaan.

“Gaan dit oor die uitdaging om ’n probleem op te los? Wil jy net iets klaarmaak waarmee jy begin het? Wil jy mense help?”

Die boodskap is dat almal daar is vir mekaar en dat die gemeenskaplike doel van almal se werk is om mense kos te gee.

Soos Charles sê, dit neem lank om ’n goeie verhouding op te bou. Boere en tegnici is op mekaar aangewese en hulle moet leer om mekaar te vertrou.

Hy sê die meeste tegnici, soos hyself, wil eintlik ook graag self boer, maar dit is nie vir almal beskore nie. “Ek kan maar net my bes doen om te sorg dat die mense wat boer, kan aanhou boer!”

Geniet die voordele van kundige tegnici. Kontak jou naaste John Deere-handelaar om uit te vind hoe hulle jou kan bystaan.

In die senutergende finale rondte van die kompetisie moet die Top Tien-manne in ’n beperkte tyd ’n reeks teoretiese vraestelle aflê en praktiese probleme oplos deur van moderne diagnostiese toerusting, ’n groot dosis logika en baie vernuf gebruik te maak.

John Deere

john deere

john deere

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

Benut water beter:

Calling all farmers for the fifth Agritech Expo Zambia in April