in ,

Is visboerdery brood op die water

“Hoender het 2,7 kg se kos nodig vir elke 1 kg gewigstoename en vir skape moet jy 13 tot 14 kg se voer gee om 1 kg meer vleis te kry,” vertel Etienne van Heerden van Wonderwater Fisheries by Sasolburg. “In teenstelling daarmee is vis se voedselomsetting 0,6 tot 0,8 vir 1 kg gewig.”

visboerdery, damme Etienne van Heerden en Des Kunneke, wat ook by die projek betrokke is, in een van die netjiese “Suntrap”-teeltonnels waar uitgesoekte vingerlinge in die teelproses gebruik word.

Etienne is ingeroep om as kundige sy volle aandag aan dié nuwe sakeontwikkeling te gee, wat beloof om die grootste varswater visplaas in die land te wees. Tertius Bothma is die man wat die onderneming begin het en hy speel nie. Op die plaas by Sasolburg gaan die visse geteel en hulle kos verwerk word, maar die groot massaproduksie van die vis gaan by Heilbron plaasvind.

In sy eie onderneming, African Fish Farmeries, het Etienne al twintig jaar se navorsing en ondervinding agter die blad om Afrika se wit goud in die water, tilapia-visse, geneties te ontwikkel tot ’n supergroeier. Tilapia staan in Boeretaal bekend as kurper, maar elke land, streek en dialek het sy eie naam vir dié vrugbare, smaaklike visse. Baie mense verwys daarna as bream of brim.  Daar is meer as honderd verskillende spesies tilapia, maar die volopste en bekendste is die Nyltilapia. In Suid- Afrika gebruik visboere hoofsaaklik die Mosambiektilapia wat eintlik ’n samestelling is van die Nyl- en blou tilapia.

visboerderyBetroubare statistiek oor varswatervisproduksie in Suid-Afrika is maar skaars, maar hierdie grafiek gee ’n goeie aanduiding van die vinnige groei in visproduksie wêreldwyd.

In lande soos Australië word tilapia as ’n indringervis beskou wat natuurlike spesies verdring en die vis is internasionaal gelys as een van die top 100 ergste indringerspesies ter wêreld. Koue lande hoef egter glad nie te skrik nie, want die vissies hou van warm water en die meeste van die spesies kan nie in water kouer as 17°C oorleef nie. Dit is net die suiwer blou tilapia Oreochromis aureus wat meer kouebestand is, maar onder 7°C sal jy nie ’n swemmende tilapia vind nie. Om suksesvol met hulle te boer, moet die water so by 28°C gehou word.

In Suid-Afrika is daar kommer oor tilapia in die natuurlike waterstelsels en ’n voornemende visboer word verplig om ’n omgewingimpakstudie te laat doen voor hy kan begin. Tilapia is ’n planteter en een van sy groot voordele is dat hy glad nie vol fiemies is nie. As dit dryf en dit is plantaardig, sal hy dit eet, soos paddaslyk (duckweed). In Phoenix, Arizona, word tilapia byvoorbeeld gebruik vir die beheer van alge en, ironies genoeg, op ander plekke vir die beheer van indringerplante in die water. In Kenia help die visse om malaria te voorkom, want hulle eet die muskietlarwes wat op die water dryf. Net soos met enige dier, is ’n vis wat hy eet en by Wonderwater Fisheries word daar ’n spesiale viskosplaas en verwerkingsaanleg gebou sodat die visse net die regte gebalanseerde kos inkry – proteïene is baie belangrik vir vinnige groei. Spirulina, wat in waterbeddings gekweek word, sal die vernaamste bron van proteïene wees. Dié alg bevat 70% proteïene.

30 ton per week!

Daar sal baie kos gemaak moet word, want die stelsel gaan groot genoeg wees vir 120 000 teelvisse wat 1,2-miljoen vingerlinge sal lewer – genoeg om 30 ton vis per week te oes. Nog ’n groot voordeel van tilapia is dat hulle vinnige telers is en ’n wyfie kan elke 40 dae eiers lê. Dit is egter die mannetjies wat uiteindelik op die bord beland, want hulle groei vinniger en groter. Vir sy eerste 21 dae ontvang ’n vingerling ’n spesiale hormoondieet wat sorg dat hy ’n mannetjie word. Net sekere vissies word uitgehou vir verdere teling.

Die ander eienskap wat van tilapia so ’n gesogte boerderyvis maak, is dat hulle nie groot volumes water nodig het nie. As daar genoeg kos voorsien word, is minder as 12 liter water per vis heeltemal genoeg. Daar is verskillende stelsels van waterhantering wat in visboerdery gebruik word. In ’n sogenaamde RAS-stelsel (recirculation aquaculture system), beweeg die vuil water uit die vistenks deur ’n filterstelsel, waarvan ’n biofilter die belangrikste is, sodat dit gesuiwer kan word om uiteindelik weer teruggepomp te word in die tenks. Dit is die stelsel met die mooi, skoon water waarin jy die visse kan sien swem.

In hulle massadamme by Heilbron gaan Wonderwater Fisheries egter ’n ander stelsel gebruik, naamlik Biofloc. In dié stelsel word visse in meer natuurlike omstandighede aangehou, maar die chemiese balans in die water word fyn dopgehou sodat daar nie gifstowwe opbou nie, en dit is belangrik om te sorg dat daar genoeg suurstof in die water is. Die bakterieë wat in die water groei, vorm vlokkies (vandaar die woord Biofloc) wat deur die visse geëet kan word. Hierdie stelsel lyk nie so aantreklik nie, maar die visse is minder blootgestel aan siektes en besmetting omdat die water meer natuurlik is.

Wat word van al die vis?
“Ons gaan viskoekies maak en visvingers en enigiets wat jy met vis kan doen,” vertel Etienne. Gesprekke met al die groot kleinhandelsgroepe is tans aan die gang, maar dit lyk redelik seker dat gesinne een van die dae sal kan kies tussen stokvisvingers en kurperkoekies. Al die afval uit die visverwerkingsaanleg en selfs die vaste stowwe wat uit die water kom, word skoongemaak, gedroog en weer gebruik. Die stelsel onderhou dus homself met die minimum impak op die omgewing.

Geleenthede vir boere
Etienne-hulle voorsien dat die aanvraag na die visprodukte so groot gaan wees dat hulle van die visproduksie sal moet uitkontrakteer. Een van die ontwikkelings op die Sasolburg-plaas is om modulêre eenhede te bou wat boere sal kan aankoop om vingerlinge groot te maak. Al die eenhede is 15 meter breed, maar in verskillende lengtes. In ’n eenheid van 22 meter behoort jy vier ton vis per maand te oes, in 40 meter is dit 8 ton per maand en in 80 meter is dit 16 ton per maand. Deur gebruik te maak van sonvangende plastiekdakke en geïsoleerde mure, word die omgewingstemperatuur binne die tonnels hoog genoeg gehou vir die visse om lekker te leef.

Die vingerlinge en viskos sal voorsien word en Wonderwater Fisheries onderneem om die vis wat die boer produseer by hom te koop. Etienne sê dit is vir hulle baie belangrik dat boere van hulle genetiese materiaal gebruik maak, want hulle bou genetiese merkers in sodat elke vissie van die dam tot die bord gevolg kan word.

Vir meer inligting oor die geleentheid, skakel Etienne van Heerden by 081-457-2891 of epos ettilapia@gmail.com.
 

What do you think?

4 points
Upvote Downvote

Total votes: 4

Upvotes: 4

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Agri Afrika: Kyk wat is nuut

Toptegnologie skitter by Nampo