in

Foutiewe beriggewing skaad boere se beeld

This post is also available in: Afrikaans

Foutiewe beriggewing deur die Gautengse- en Tarlton polisie aan die media oor die tragiese skietdood van ‘n plaaswerker in die Krugersdorp-omgewing het boere se naam deur die modder gesleep.

Aanvanklike berigte het beweer dat ‘n boer ‘n trekkerbestuurder wat ‘n trekker gesteel het, doodgeskiet het. Latere berigte het egter bevestig dat ‘n sekuriteitsbeampte verantwoordelik was vir die skietdood van die plaaswerker. “Vals beriggewing oor die insident en swak joernalistieke werk het daartoe gelei dat boere se naam en beeld in die openbaar geskaad is. Die onnodige verspreiding van grafiese beeldmateriaal oor die insident het die waardigheid van die slagoffer aangetas. Dit en die vals beriggewing is onaanvaarbaar”, sê Dan Kriek, President van Agri SA.

Agri SA betoon graag sy medelye met die familie van die vermoorde plaaswerker en sê dat plaaswerkers ‘n belangrike deel van die landbou is en saam met boere verantwoordelik is om voedsel vir die land se mense te voorsien. Die Menseregtekommissie het in sy ondersoek in 2014 na veiligheidsuitdagings in plaasgemeenskappe bevind dat die goeie verhoudings tussen boere en plaaswerkers nie genoegsaam beklemtoon word nie en dat die negatiewe stereotipering van verhoudings op plase teengewerk moet word. Die verkeerde inligting rondom die Tarlton insident dra nie by tot die bevordering van verhoudinge in landelike gemeenskappe nie.

Sedert die skietdood van die plaaswerker Saterdagoggend, het die media die inligting wyd gedra, onder andere in die sosiale-media waar daar verwys is na “black people were being killed by white farmers” en dat die voorval rassisties gemotiveerd is. Die tipe inligting lei tot die polarisasie van gemeenskappe en is nie bevorderlik vir nasiebou nie.

“Ek doen vandag ‘n beroep op die media en ander belanghebbendes om seker te maak dat inligting oor boere reg oorgedra word en dat die boerderygemeenskap nie onnodig veroordeel word vir dade waaraan hulle nie meegedoen het nie,” sê Kriek.

Uitsprake oor die Tarlton voorval en die verwysing na die boer as die skuldige party, gaan gewoonlik met emosie gepaard en die vorming van verkeerde persepsies oor boere in die breë samelewing.

“Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op die polisie en die media om toe te sien dat misdaadverwante insidente en wie die skuldige party is, korrek deurgegee word”, sê Kriek ten slotte.

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

money

Nuwe minimumlone bekend vir 2018

meat

Rwanda verbied landbou-invoere van SA