in

Israel se landbou wen met tegnologie

This post is also available in: Afrikaans

Israel is net so groot soos die Kruger Wildtuin. Van hierdie stukkie aarde kan net 20% vir landbou gebruik word en 50% is woestyn. Nogtans is Israel ‘n wêreldleier in die landboubedryf.

Lior Keinan, die ambassadeur van Israel in Suid-Afrika, het by ‘n konferensie met die tema “From Agri to Agritech” verduidelik dat tegnologie die verskil maak. Hy sê hy dink dit is juis omdat die omstandighede so moeilik is, dat Israel so suksesvol is met betrekking tot landbou-ontwikkelings.

Hy het by die konferensie in Kemptonpark boere en ander rolspelers in die landbou in Suid-Afrika uitgenooi na die groot internasionale Agritech-skou wat van 6 tot 11 Mei in Tel Aviv aangebied word.

Hy sê dit sal ‘n vertoonvenster van die wêreld se top landboutegnologie wees.

Een van die voorbeelde van die gebruik van tegnologie is daarna deur Zohar Ben Ner van die maatskappy SupPlant uitgewys. Hy het gepraat oor inligtinggedrewe slim boerdery.

Hulle het ‘n stelsel ontwikkel wat van wiskundige logaritmes gebruik maak om in reële tyd die behoeftes van plante te meet en geskikte optrede voor te stel, soos die aanpassing van die besproeiingsprogram.

Hy sê oor die algemeen gee boere tot vyf keer meer water as wat nodig is en dit ook op verkeerde tye. Met die regte watertoediening op die regte tyd kan tot 30% water gespaar word en opbrengs met gemiddeld 5% verhoog word.

Só spaar ons water

In ‘n paneelbespreking het ‘n Wes-Kaapse boer, Francois Rossouw van Mooigezicht Estates, vertel wat hulle alles gedoen het om in die droogte voort te gaan met die produksie van tafeldruiwe. Mooigezicht is die grootste produsent van pitlose tafeldruiwe in die land.

Francois vertel dat hulle die hele produksieproses moes herdink, nie net hulle besproeiingstelsel nie. Hulle het begin belê in kultivars wat gouer gepluk kan word en dus minder water nodig het en pas ook die druiwestokke se groeiwyse aan vir vroeër trosvorming.

Wat besproeiing betref, is alle ou staalpype met swart pype vervang, elke boorgat en boorgatpomp word gemeet vir optimum watervoorsiening, streng skedulering vind plaas en geen lekkasies word geduld nie. Op plekke is gaatjies in die drupperpype toegemaak en slegs een gaatjie is by elke plant toegelaat, met ‘n pypie wat die water onder die grond tot by die wortel lei.

Francois se raad aan boere wat water wil bespaar is om lewering per volume te meet en nie per tyd nie. Grondbedekking is noodsaaklik en die goue reël bly om nat te gooi wanneer dit koel is om verdamping te bekamp.

Willem Botha van die besproeiingsmaatskappy, Netafim, het boere aangemoedig om sover moontlik oor te skakel na drupbesproeiing. Van die 1,2-miljoen hektaar onder besproeiing, is net 10% onder drupbesproeiing.

Hy sê die eenvormige toediening van water en voedingstowwe sorg vir oesverhoging en dit gebeur ook dat boere op meer grond kan boer omdat hulle minder water gebruik. Elke boer moet dus besluit wat hy bereid is om te betaal vir meer inkomste.

Hy sê tegnologie is nie altyd duur of behels elektroniese oplossings nie; die slim gebruik van swaartekrag vir watervloei is ook tegnologie en dit kos niks.

Vir meer inligting oor die Agritech-skou wat van 6 tot 11 Mei in Tel Aviv aangebied word, besoek http://agritechisrael.org.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Dom Boer se lag vir die dag: