in

Ekonomiese reëls vir die produksie van voedsel

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, het ‘n referaat gelewer oor die ekonomiese reëls vir die produksie van voedsel, tydens TLU SA se jaarkongres wat vandag by die WNNR se Konferensiesentrum in Pretoria plaasvind.

“Die landboubedryf in die wêreld word gekenmerk deur spesifieke eienskappe en realiteite wat die volhoubaarheid van landbouproduksie en voedselsekerheid ernstig bedreig,” sê Fanie.

Hy sê klimaatsverandering wat deur aardverwarming veroorsaak word is een van die grootste bedreigings, terwyl die inmenging van die regering met sy politieke en ekonomiese beleidsrigtings in baie gevalle ook negatiewe gevolge vir die bedryf veroorsaak, waaronder verskeie belastings, stygings in elektrisiteitstariewe en minimum lone.

Die regering bied feitlik geen ondersteuning aan die volhoubaarheid van kommersiële voedselproduksie nie, selfs nie eers tydens die baie ernstige droogte wat verlede jaar ondervind is nie, terwyl hy ook nie ‘n langtermyn plan vir die toekoms van die kommersiële landbou het nie. Spesifiek gesien in die lig van sy dreigende en onsuksesvolle grondhervormingsbeleid.

Die feit dat landbouprodusente prysnemers en nie prysmakers is nie beteken dat hulle in baie gevalle prysstygings aan die insetkant van die landbou moet absorbeer wat op ‘n produksiekoste plus ‘n winsmarge basis deur die insetverskaffers vasgestel word, terwyl die pryse van landbouprodukte deur vraag en aanbod bepaal word.

Voedselvervaardigers en -handelaars stel ook hulle pryse op ‘n produksiekoste plus ‘n winsmarge basis vas en slaag baie goed daarin om al hulle kostestygings aan die verbruikers deur te gee wat ‘n direkte invloed op die vraag na voedsel het.

“‘n Groter ontstellende tendens is die feit dat voedselvervaardigers en -handelaars normaalweg hulle pryse vinnig verhoog wanneer die pryse van landbouprodukte hoër verhandel, maar egter nie altyd bereid is om hulle pryse vir die verbruikers net so vinnig te verlaag wanneeer die pryse van landbouprodukte weer daal nie. Die mieliepryse vir produsente is, byvoorbeeld, vanjaar minstens 60% laer as verlede jaar, maar die jongste syfers wys dat prys van mieliemeel in Juniemaand slegs 8% laer as ‘n jaar gelede was,” sê hy.

Hierdie twee faktore is direk daarvoor verantwoordelik dat die pryse van landbou-insette en die verbruikerspryse van voedsel vinniger as die produsentpryse van landbouprodukte gestyg het.

“Die enkele grootste probleem met die ekonomie vandag is die feit dat die ANC-regering na 1994 al meer ‘n gemengde sosialistiese en kommunistiese ideologie omhels het wat geen ekonomiese groei kan skep nie en kapitalisme verwerp het. Dit was die beginpunt van die vernietiging van ekonomiese groei en ook die hoofrede waarom die regering nie die swak ekonomie maklik sal kan omdraai nie.”

In teenstelling hiermee, is ‘n markgerigte kapitalistiese ekonomiese stelsel nog altyd baie suksesvol dwarsdeur die wêreld toegepas omdat dit die enigste stelsel is hoe ekonomiese groei deur die winsmotief gedryf en geskep kan word. Sosialisme en kommunisme kan ekonomiese groei en voorspoed slegs vernietig en dit is ook die hoofrede waarom die regering nie die ekonomie omgedraai kan kry nie.

“Daar moet vandag geen twyfel bestaan dat landbouproduksie en voedselsekerheid slegs volhoubaar kan wees as die produksie van voedsel winsgewend is,” voeg hy by.

In wese kom dit grootliks neer op die eienskappe en aanwending van insette wat gebruik word om uitsette te produseer en die toepassing van die basiese ekonomiese en besigheidsbeginsels om winste te genereer, presies soos wat dit in al die ander bedrywe in die ekonomie ook gedoen word.

Hierdie proses vorm die basis van ekonomiese groei wat in werklikheid deur twee spesifieke en baie belangrike dryfvere in al die bedrywe in die ekonomie geskep word.

Die eerste drywer is die uiters belangrike inset/uitset-prysverhouding bepaal. Dit beteken dat die winsgewendheid van enige bedryf hoofsaaklik bepaal deur die pryse wat produsente vir hulle insette soos, saad, kunsmis en brandstof betaal in verhouding tot die pryse wat hulle vir hulle produkte ontvang.

As die groot dryfkrag van inset/uitset-prysverhouding ignoreer sou word en nie voldoende aandag kry hoe dit verbeter kan word nie, sal dit verseker tot die finansiële ondergang van enige onderneming aanleiding gee.

Die tweede belangrike drywer wat ‘n groot invloed op die winsgewendheid van enige onderneming het, en wat nie onderskat mag word nie, is die doeltreffendheid waarmee die insette wat in die produksie- of vervaardigingsproses gebruik word, omgeskakel kan word in uitsette.

Daarom is dit so belangrik dat die doeltreffendheid van ‘n produksieproses deurlopend verhoog moet word deur volgehoue navorsing oor nuwe tegnologiese ontwikkelings. Hierdie tegnologie moet produsente en verwerkers in staat stel om meer uitsette met dieselfde hoeveelheid insette of dieselfde hoeveelheid uitsette met minder insette te kan lewer. Nuwe tegnologie is baie belangrik en in werklikheid die enigste manier hoe die doeltreffendheid van produksie verhoog kan word.

Hierdie twee winsdrywers naamlik, die inset/uitset-prysverhouding en die doeltreffendheid van produksie, vorm gesamentlik die belangrikste beginsel in die landbou omdat dit die optimum en maksimum winsvlak van produksie bepaal en ook alle landbouvakgebiede insluit. Dit speel ook net so ‘n belangrike rol in al die ander verskillende bedrywe in die ekonomie en bepaal daarom die gesamentlike winsgewendheid, potensiële groei en welvaart wat in die ekonomie as geheel geskep kan word.

“Een aspek wat nie uit die oog verloor moet word nie, is die feit dat die verbruikers van voedsel ‘n baie groot bydrae tot die volhoubaarheid van landbouproduksie lewer. Die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch het bevind dat die verbruikers tot soveel as 60% tot die skepping van ekonomiese groei bydra en die feit moet geensins onderskat word in die landbou nie,” sê Brink.

“As die regering ekonomiese groei wil stimuleer sal hy eerder bereid moet wees om die winsgewendheidsvlakke van al die verskillende bedrywe in die drie hoofsektore van die ekonomie te verbeter deur die probleme wat verhoed dat hulle ‘n groter volhoubare bydrae tot ekonomiese groei kan lewer, te identifiseer en dit daadwerklik aan te spreek,” voeg Brink by.

Die regering sal dit ook moet erken en aanvaar dat die produsente, vervaardigers, handelaars en diensteverskaffers aan die aanbodkant, en die verbruikers aan die vraagkant, in werklikheid die grootste en belangrikste rolspelers in die ekonomie is, as die skeppers van ekonomiese groei, welvaart en vooruitgang in enige land.

Bron: Fanie Brink

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

stellenbosch universiteit

Aansoeke ingewag van studente wat in 2018 nuwe MSc in Voedsel- en Voedingsekerheid aan die US wil volg

GEVULDE AARTAPPELS