in

Dubbeldoelras-gee-meer-melk-en-meer-vleis

This post is also available in: Afrikaans

Geskiedenis
Reeds in die Middeleeue is daar in rekords na die diere verwys as die “rooi en wit beeste van Switserland”. Vandag is daar ongeveer 30 miljoen Simmentaler-diere regoor die wêreld en word hulle erken as ‘n merkwaardige dubbeldoelras.

Die naam Simmentaler is afgelei van die vallei (“tal” in Duits) en van die “Simme” rivier in Switserland. Dit word algemeen aanvaar dat die ras van die Aurochs (Bos Taurus primegenius), die inheemse beeste van Europa, afstam. Simmentalers was teen die einde van die 19de eeu in groot getalle vanaf Switserland na buurlande sowel as Balkanstate en Oos-Europa uitgevoer. 

Die eerste Simmentalers is in 1905 deur president MT Steyn, die laaste president van die Vrystaatse Republiek na Suid-Afrika, ingevoer. 

Dié aanpasbaarheid en reproduksievermoë van die ras het alle verwagtinge van president Steyn oortref en sy Simmentalerkudde  het floreer ten spyte van die strawwe klimaatstoestande in die area met sy baie warm somers en uiters koue winters.

Die ras het egter eers begin aanhangers wen in die vroeë sestiger-jare toe die uitslae van die interrastoetse gepubliseer is. Die ras se prestasie in die toetse saam met sy uitstaande prestasie in bulgroeitoetse het daartoe gelei dat die ras skielik gewild geword het. Die ras was so gewild dat dit nodig was om groot getalle diere in te voer vanaf die destydse Suidwes-Afrika en later ook Fleckvieh vanaf Duitsland.

Tans is daar ongeveer 30 miljoen Simmentalers in die wêreld wat onder name soos Fleckvieh, Abondance, Pezzata Rossa, Montbeliarde en Simmental bekend staan. Lande met die grootste populasie is Rusland, Duitsland, Oostenryk en Frankryk.

Dubbeldoelras
In Europese lande word die dubbeldoel-eienskappe van dié ras ten volle benut en word alle koeie gemelk. In Duitsland is die gemiddelde melkproduksie van die 652 300 Simmentaler koeie ‘n indrukwekkende 6 280 kg melk. Seuns van hierdie hoë melkproduserende koeie wat op stoetveilings verkoop is, het 637 kg op 15 maande geweeg met ‘n daaglikse gewigstoename vanaf geboorte van 1,23kg wat beter is as die meeste spesialiteitvleisrasse in Suid-Afrika. Hulle karkaste is ook meer gespierd met minder vet wat verseker dat die vleis meer gesog is. 

In die res van die wêreld het die gewildheid van die ras sedert die laat sestiger-jare geweldig toegeneem. In Suid-Afrika word die ras veral vir vleisproduksie gebruik en is sy gewildheid te danke aan sy geskiktheid vir kruisteling.

‘n Wêreld Simmentaler Fleckvieh Federasie is in 1974 gestig, met Suid-Afrika as een van die trotse stigterslande. Hierdie federasie het 29 lidlande en 100 000 geregistreerde telers, wat dit die grootste internasionale stoetbeesfederasie maak, naas Holsteins.

Voorkoms en voordele
Simmentalers het ‘n unieke kleureienskappe. Kleur kan varieer van donkerrooi tot room, versprei oor die liggaam in willekeurige patrone. Daar moet voldoende pigment wees op die ooglede.. Volwasse bulle weeg tussen 1 000 en 1 200 kg terwyl koeie ongeveer 550 tot 800 kg weeg. 

Buiten vir hulle veelsydigheid as dubbeldoeldiere word Simmentalers gereeld gebruik vir kruisteling. Dit is meestal te danke aan hulle hoë vrugbaarheid en uitstekende groeitempo. Daarby het hierdie diere gewoonlik ’n goeie temperament and goeie moederlike eienskappe. Vir die boer beteken dit meer melk, meer vleis en meer geld.

Bronne:
http://www.simmental.com.au
http://www.simmentaler.org
http://www.simmentaler.co.za

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

SA-Jagters-steun-renosters-se-voortbestaan

Van-solderdeur-tot-praathuis