in

Besproeiing: Lindsay loop voor met Zimmatic

Besproeiingsgrond is duur, water is skaars en tyd is kosbaar. Die boer wat wil oorleef en vooruit boer, moet sorg dat elke druppel en elke minuut tel. By Lindsay, verspreider van die Amerikaanse Zimmatic-besproeiingstelsels, gaan alle nuwe tegnologiese ontwikkelings daaroor om die boer te help om meer doeltreffend te boer en produksie te verhoog sonder om water en grond te mors.

’n Spilpunt bly maar die koning van besproeiingstelsels, maar dit is ook so dat vrugbare landbougrond nie in sirkelvorms uitkom nie. Twee van die uitbeeldings by Lindsay se standplaas by NAMPO het gewys hoe die probleem opgelos kan word.

Laterale of liniêre stelsels kan goed werk vir lang, reghoekige lande, en Lindsay bied verskeie oplossings hiervoor. Aangesien daar nie ’n stilstaande ankertoring soos by ’n spilpunt is nie, moet die watertoevoer en kragtoevoer saam met die stelsel beweeg.

’n Ander oplossing om jou grond ten volle te benut, is om uitvalshoeke te besproei met Zimmatic se hoekuitswaai-oplossing. Die hoekstelsel kan as ’n bykomende span op ’n bestaande spilpunt aangebring word. Die span loop teen ’n reghoek saam met die spilpunt tot by die uitvalshoek en dan swaai dit uit en die sproeiers word deur die outomatiese beheerstelsel geaktiveer om vir daardie gedeelte te spuit.

Afhangende van die grootte van jou lande, kan jy maklik tussen 18 en 28% se produksiepotensiaal bykry. “Ons het nou net vir ’n boer by Christiana gehelp om sy hoë-opbrengsgrond so te vermeerder. Sy keuse was om nog ’n plaas aan te koop of om al sy grond te benut. In sekere streke kan besproeiingsgrond tot R300 000 per hektaar kos. Dit maak sin om elke duim daarvan te benut,” sê Richard.

Lindsay

Rudi Koekemoer, Richard Joseph en Adam Olivier sê elektroniese beheer en presisieboerdery loop hand aan hand. Met Zimmatic se elektroniese tegnologie kan die boer ’n hele bestuursinligtingstelsel onder die punte van sy vingers hê.

By NAMPO het Lindsay die tegnologie uitgebeeld met ’n ry sproeiers wat outomaties aan- en afskakel. Richard sê hulle presisiebeheer gaan nie net oor segmente nie, maar kan letterlik sproeier vir sproeier in bepaalde gebiede beheer.

Gestel die spilpunt loop op een plek met ’n bruggie oor ’n sloot. Al wat die boer hoef te doen, is om die strook se GPS-koördinate te merk en dan kan die sproeiers geprogrammeer word om een vir een af te skakel soos dit in die lengte oor die sloot beweeg.

Alles word op die Zimmatic-beheerpaneel gestel, of as jy Fieldnet het, kan jy dit sommer op jou slimfoon doen. Jy het ook deur die elektroniese stelsel toegang tot inligting soos die werklike vloei van die water en kan selfs die inligting van ’n weerstasie gebruik om jou besproeiing te skeduleer. Fieldnet kan ook gebruik word om ander soorte spilpunte te beheer.

By NAMPO het Lindsay hulle vierwielwaentjie gewys. Op die waentjie pas dieseltenks en ’n kragopwekker wat die stelsel langs die land af aandryf en krag aan die ratkaste voorsien.

Water kan op verskeie maniere voorsien word, soos deur ’n toevoerpyp wat saamgesleep word, of vanuit ’n kanaal wat langs die waentjie gegrawe word en waaruit die pomp dan suig. Die kragopwekker dryf dan die pomp, karretjie en die stelsel aan en alles beweeg saam. Richard Joseph, bemarkingsbestuurder van Lindsay SA, sê daar is juis nou so ’n stelsel op pad na Zambië. Hy gaan oor ’n afstand van 1,2 km heen en weer beweeg.

Alle tegnologie is nie elektronies nie. Zimmatic het ’n nuwe ratkasolie wat jy nooit weer hoef af te tap en te vervang nie. Gearlife word sag en loperig as die onderdele beweeg, maar bly in ’n beskermende jelvorm om al die onderdele as dit stilstaan. Richard vertel dat hulle die demonstrasiemodel verlede jaar op NAMPO laas gebruik het. Die ratkas met die gewone olie moes hulle aftap en weer vul, maar die Gearlife-ratkas kon hulle net aanskakel!

Vir meer inligting oor Zimmatic se tegnologie-oplossings, skakel Richard Joseph van Lindsay by 084-788-9412 of 021-986-8900 of stuur n e-pos na richard.joseph@lindsayafrica.co.za.

Lindsay

lindsay

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

taltec

Veehantering sonder sukkel: Tal-Tec bly een stappie voor

Hino

NAMPO skep ’n werklike omgewing vir Hino