in

Agri SA verwelkom aanbevelings van hoëvlak paneel oor sleutelwetgewing

‘n Onafhanklike, hoëvlak paneel wat die effektiwiteit moes ondersoek van wetgewing wat sedert 1994 deur die parlement gepromulgeer is, het Dinsdagaand sy verslag bekendgemaak.

Dié paneel, onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe, is deur die parlement aangestel om die wetgewing en die in werking stel daarvan te evalueer en aanbevelings te maak.

Die paneel se fokusareas was onder meer: Armoede, werkloosheid, ongelykheid, diskriminasie, grondhervorming en nasiebou.

Agri SA verwelkom die bevindings van die paneel se lywige verslag van 600 bladsye. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake en regs- en beleidskenner, sê die organisasie is nog besig om die besonderhede van veral spesifieke voorstelle oor wetswysigings te bestudeer en is bekommerd oor enkele kwessies soos die voorstelle oor die onderverdeling van landbougrond. “Maar in die breë word die verslag verwelkom en ondersteun,” sê Crosby. “Veral die bevindinge oor die eiendomsklousule word verwelkom in die huidige klimaat van onsekerheid oor eiendomsreg en onverantwoordelike uitlatings wat in die verband gemaak word.”

Die paneel het gedurende Januarie 2016 afgeskop en het talle werkswinkels en openbare verhore gehou, skriftelike insette van belanghebbende organisasies en persone verwerk en kundiges geraadpleeg oor ‘n verskeidenheid van onderwerpe.

Sommige van die paneel se aanbevelings is die volgende:

  • ‘n   Bekwame, ontwikkelings-georiënteerde staat is noodsaaklik om die doelwitte van die Grondwet ten uitvoering te bring.  Dit het egter duidelik geblyk uit die insette van sowel die breë publiek as kundiges dat die regering baie swak vaar wanneer dit kom by die uitvoering van beleid en wetgewing;
  • In baie gevalle het die publiek en kundiges volkome saamgestem met die inhoud en doelwitte van beleid en wetgewing, maar was daar fundamentele probleme met die in werking stel van sodanige beleid en wetgewing.  Dit geld onder meer vir grondhervormingswetgewing;
  • Daar blyk konsensus te wees oor die feit dat dit nie soseer ‘n gebrek aan finansiële hulpbronne is wat die implementering van wetgewing kortwiek nie, maar ‘n gebrek aan politieke wil om uitvoering te gee aan beleidsdoelwitte, soos in die geval van grondhervorming, waar die paneel bevind het dat daar wegbeweeg is van die grondwetlike imperatiewe. Laasgenoemde sluit in billike toegang tot grond na ‘n stelsel van staatseienaarskap;
  • Waar dit grondhervorming betref, is daar verskeie voorstelle, wat insluit raamwerkwetgewing vir grondhervorming in die breë, wat bepaalde riglyne en prosesse en vereistes sal neerlê om deursigtigheid, aanspreeklikheid en die goeie bestuur van grondhervorming te verseker, asook wetgewing wat erkenning sal verleen aan  die registrasie van besitsregte soos die regte van persone in kommunale gebiede, stede en op plase.  Daar word ook aanbeveel dat daar meer deursigtige prosesse moet wees om begunstigdes van grondhervorming te kies. Verder behoort begunstigdes te kan kies watter vorm van besitreg hulle sou verkies;
  • Die ekonomiese- en ontwikkelingsuitkomste van restitusie tot dusver is swak.  Dit gaan waarskynlik tussen 35 en 43 jaar neem om net die uitstaande restitusie-eise af te handel. Daar word heelwat aanbevelings rondom restitusie gemaak, wat insluit dat ‘n navorsingseenheid binne die grondeisekommissie op die been gebring moet word, dat die 1913 datum nie vervroeg moet word nie en dat ou orde eise so gou moontlik afgehandel moet word;
  • Die paneel bevel aan dat die parlement ‘n meer aktiewe rol behoort te speel om te verseker dat die uitvoerende gesag wetgewing wel effektief in werking stel.  Daar is selfs sprake van strawwe vir nie-voldoening deur die uitvoerende gesag;
  • Deelname aan beleids- en wetgewingsprosesse deur die publiek is nie bevredigend nie en die wetgewingsproses behoort hersien te word om meer effektiewe deelname deur die publiek te verseker;
  • Die ontwikkeling van die landbousektor moet geprioritiseer word vanweë die sektor se potensiaal om werk te skep en die ekonomie te groei.  Daar behoort oorweging geskenk te word aan ‘n nasionale landbouplan om dit te laat realiseer;
  • Slegs 0,4% van die nasionalebegroting gaan tans na grondhervorming en slegs 0,1% word gebruik vir grondaankope.  Verder word die grond nie aan die begunstigdes toegeken nie, maar bly dit in staatsbesit;
  • ‘n Belangrike bevinding is dat die Grondwet en spesifiek die eiendomsklousule nie ‘n struikelblok in die weg van grondhervorming is nie. Die betaling van vergoeding is beslis nie die grootste probleem met grondhervorming nie, maar eerder korrupsie deur amptenare, die bevordering van sekere elite-groeperinge, ‘n gebrek aan politieke wil en ‘n gebrek aan opleiding en kapasiteit.

“Ons vertrou dat die ANC tydens hulle beleidskonferensie in Desember sal ag slaan op die sinvolle bevindings en aanbevelings in hierdie verslag,” het Crosby gesê.

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

La Nina toestande ontwikkel nou

Veediefstal styg met 8,8%